So nou praat die geleerdes oor die dik sand. Hulle praat van die hoogte en laagte punte in jou lewe. Die storie van die ou wat net een ry spore sien op die tye waar dit moeilik was in sy lewe en vra waar was Hy? Om dan uit te vind dit was nie sy eie spore nie want dit is waar hy gedra was.
Dit is alles mooi stories maar dit maak nie die dik sand makliker nie. Dit is bemoedigend om te hoor daar is lig aan die einde van die tonnel, "keep on keeping on" en hou net aan trap soos die muis wat die melk botter getrap het en toe uitklim.
Daar is tye wat die grond onder jou voete lekker hard is en jy vlieg oor daai dele van jou lewe. Dit is seker hoekom daai dele so vinnig verby gaan want jy loop so maklik en jy voel jy is besig om voor te kom.
Dit is nie te warm in die woestyn vandag nie. Waar die 4x4 Patrol staan voel dit of jou oë al verder en verder oor die see kan kyk hoe langer jy hulle daar hou. En aan die ander kant rol die duine asof hulle die branders naboots, en dieselfde ritme van hoogte en laagte punte hou aan tot in ewigheid. Wel defnintief so ver as wat ek nou kan sien. Maar ek weet aan die anderkant is daar 'n skeidings berg tussen die woestyn en die ewige bosveld en gras vlaktes agter dit.
Dit is defnintief hoër as die woestyn en dan is daar veld en riviere en bome en lewe. Maar van hier af is dit nie sigbaar nie. Die boerseun maak sy bene los en die tree is groter as gewoonlik af van die duin. Dit is vinnig verby en dan staan hy in die duinstraat. Hier is dit stil, dis alleen en die geselskap van ander mense is nie meer sigbaar nie. Die ritme is hier ok nie juis iets wat jy kan sien nie. Dis opdraande altwee kante toe. Die see se gedruis soos die stem van die Heilige onhoorbaar agter die duine en in die gat.
Al wat oor is van die visie van die berg, riviere en oasis is die prentjie in sy kop van dit wat sigbaar was van die hoogtepunt. Dit is nie duidelik hier nie en die enigste aanduiding van die pad vorentoe is dat daar geen voetspore teen die hoë duin uit is nie. Dit is onsigbaar, maar as hy sy oë toe maak kan hy nog die prentjie sien van daar bo. Dit is vaag maar hy sien die rol van die duine op en af almal weg van Egipte na die beloofte land agter die eskarp.
Vir 'n ruk staan die jong fikse boerseun en laat sy gedagtes gaan oor die verskynsel. Oor die agterste duin in sy voetspore agter die blougroen Oakley sonbril kom sy nou gestap. Die donker hare wat om haar kop warrel en dan soos sy halflyf oor die duin is raak die blonde krulkoppie sigbaar. Hy kyk af na die tweede kleintjie nog heeltyd in die dra sakkie voor sy bors wat nog nie self die dik sand kan trotseer nie.
Is hier 'n storie in die niks? Is hier waarheid opgesluit in die dik sand van die duine die ewige rol van die op en af tot aan die einde. Die nou en dan blik van die pad vorentoe. Soos 'n visie in 'n dowwe spieël? Het die Groot Baas nie dalk gedink om 'n storie te skryf in die niks?
Teen die opdraende is dit nou makliker soos die vierkies gesels oor wat hulle alles gesien het van daar bo. Oor die mooi uitsig daar bo maar ook die rustige stilte onder in die duinstraat. Saam loop hulle die duin uit en dit is makliker selfs lekker en soms moet mens op jou kneë wees om die steil dele uit te kom. Dit is 'n uitstappie om nie te vergeet nie.
'n Klein stemmetjie. "Pappa mens kan lekker DIEP spore trap in hierdie dik sand!"