To the reader

Om te sien is 'n geskenk, obserwasie vernuwe denke

9.28.2012

Die dik sand


So nou praat die geleerdes oor die dik sand. Hulle praat van die hoogte en laagte punte in jou lewe. Die storie van die ou wat net een ry spore sien op die tye waar dit moeilik was in sy lewe en vra waar was Hy? Om dan uit te vind dit was nie sy eie spore nie want dit is waar hy gedra was.

Dit is alles mooi stories maar dit maak nie die dik sand makliker nie. Dit is bemoedigend om te hoor daar is lig aan die einde van die tonnel, "keep on keeping on" en hou net aan trap soos die muis wat die melk botter getrap het en toe uitklim.

Daar is tye wat die grond onder jou voete lekker hard is en jy vlieg oor daai dele van jou lewe. Dit is seker hoekom daai dele so vinnig verby gaan want jy loop so maklik en jy voel jy is besig om voor te kom.

Dit is nie te warm in die woestyn vandag nie. Waar die 4x4 Patrol staan voel dit of jou oë al verder en verder oor die see kan kyk hoe langer jy hulle daar hou. En aan die ander kant rol die duine asof hulle die branders naboots, en dieselfde ritme van hoogte en laagte punte hou aan tot in ewigheid. Wel defnintief so ver as wat ek nou kan sien. Maar ek weet aan die anderkant is daar 'n skeidings berg tussen die woestyn en die ewige bosveld en gras vlaktes agter dit.

Dit is defnintief hoër as die woestyn en dan is daar veld en riviere en bome en lewe. Maar van hier af is dit nie sigbaar nie. Die boerseun maak sy bene los en die tree is groter as gewoonlik af  van die duin. Dit is vinnig verby en dan staan hy in die duinstraat. Hier is dit stil, dis alleen en die geselskap van ander mense is nie meer sigbaar nie. Die ritme is hier ok nie juis iets wat jy kan sien nie. Dis opdraande altwee kante toe. Die see se gedruis soos die stem van die Heilige onhoorbaar agter die duine en in die gat.

Al wat oor is van die visie van die berg, riviere en oasis is die prentjie in sy kop van dit wat sigbaar was van die hoogtepunt. Dit is nie duidelik hier nie en die enigste aanduiding van die pad vorentoe is dat daar geen voetspore teen die hoë duin uit is nie. Dit is onsigbaar, maar as hy sy oë toe maak kan hy nog die prentjie sien van daar bo. Dit is vaag maar hy sien die rol van die duine op en af almal weg van Egipte na die beloofte land agter die eskarp.

Vir 'n ruk staan die jong fikse boerseun en laat sy gedagtes gaan oor die verskynsel. Oor die agterste duin in sy voetspore agter die blougroen Oakley sonbril kom sy nou gestap. Die donker hare wat om haar kop warrel en dan soos sy halflyf oor die duin is raak die blonde krulkoppie sigbaar. Hy kyk af na die tweede kleintjie nog heeltyd in die dra sakkie voor sy bors wat nog nie self die dik sand kan trotseer nie.

Is hier 'n storie in die niks? Is hier waarheid opgesluit in die dik sand van die duine die ewige rol van die op en af tot aan die einde. Die nou en dan blik van die pad vorentoe. Soos 'n visie in 'n dowwe spieël? Het die Groot Baas nie dalk gedink om 'n storie te skryf in die niks?

Teen die opdraende is dit nou makliker soos die vierkies gesels oor wat hulle alles gesien het van daar bo. Oor die mooi uitsig daar bo maar ook die rustige stilte onder in die duinstraat. Saam loop hulle die duin uit en dit is makliker selfs lekker en soms moet mens op jou kneë wees om die steil dele uit te kom. Dit is 'n uitstappie om nie te vergeet nie.

'n Klein stemmetjie. "Pappa mens kan lekker DIEP spore trap in hierdie dik sand!"






5.22.2012

'n Storie van die ou man.....

Ek draai uit Duncan op die N4 Oos na Witbank se kant toe slek af vir die kammera en stoot hom dan hard tot by die tolhek waar jy teen R 24 verder mag gaan tot by Dronkwordspruit. Daar ry ek so skrams tussen die hemel en die hel verby by die budiste tempel en neem dan die klein grond paaitjie na Jakkhalsfontein.

Die wat al die belegging in hulle lewens gemaak het om te gaan kyk wat ek hier van praat sal presies weet wat om hier te verwag. Die gras skuur teen die onderkant van my sedan en soos ek deur die groot hek op die werf ry sien jy daar staan twee luukse motors op die werf van ander gaste.

Die eerste wie my kom groet is die dik Donna. Met haar lyf wat swaai tussen die 4 pote dat die bosluise moet klou om aan te bly glimlag haar bek breed, en die kefferkie sukkel om onder haar deur te kyk. Want hier is dit 'n honde lewe.....

So 11 m van waar die net meer as 60 Brahmane met horings so lank soos 'n afrikaner sit daar 'n fors gestalte. Oor die skouer rus die skoffel onder die verkyker deur dat oupa darem ok na sy kudde hier vlak voor hom kan kyk. Vandag is die Simon van de Stel strik nie so duidelik sigbaar onder die rooi en swart teemus nie. Daar bol darm 'n lang string grys hare uit waar die tuit se gat is.


Ek kom nader en bulder hier van 5m af OUPA.! Is dit dan Baas Pieter vra hy en steek die groot hand en vat met baie meer krag as wat mens verwag vir 'n oom van 93. Maak bietjie vir ons 'n koffie dan praat ons daar bo.

Ek loop terug na die huis se kant maar moet oppas  vir die landmyne wat dik Donna en Oubaas getrou op die grasperk plant.

Ons neem stelling in onder die Katedraal grasdak en die moer plons uit die koffie ketel se tuit wat nou uitsteek waar die grys hare netnou was. Raymond was vroer hier by oupa om op een of ander manier buit te maak van die oubaas se boerdery want syne sukkel om genoeg by te bring dat hy sy tande kan laat regmaak. Ou Raymond sal 'n pampoen deur 'n sleutelgat kan eet....Maar gelukkig sal sy onderlip nie sommer nat reen ooit nie....

So sit ek en hoor hoe ek in Crispis doxie moet gaan sit, stil word en die Here vra wat ek moet doen met my lewe, en dit is medies! Verder praat die oom oor Ipad, Impala Plats en sommer die nuus van die dag. Hy lig my in oor meer as net wat op die plaas aan die gang is en waar hy nou 'n nuwe dam sal bou.

Ek sit en sien hierdie forse ou man. Soos moses of Heidie se oupa sit hy daar voor my. Hy leef asof dit nou maar die begin is van nuwe dinge in sy lewe. Vier generasies daar voor die kaggel in die katedraal. Woorde kan dit nie beskryf nie.

Ek verstaan skielik hoekom ek sekere goed op 'n sekere manier doen. Dink aan die familie, die clan, die mense waar jy vandaan kom. Hulle het baie agtergelaat van manier van doen, hande agter die rug deur 'n huis stap, die pappagaailip en die manier hoe jy dink oor goed! Dit is jou mense en jy is gevorm deur gebeure en verhoudings met hulle en die ander naby aan jou.

MAAR, gaan vra jouself af, wees eerlik en sit stil vir 'n oomblik. Moenie alles glo wat hulle wat voor jou was gese het nie. Moenie alles soos hulle doen nie. Moet asseblief nie alles weggooi nie. Soek net na die waarheid. Leer by die wat voor jou daar was en maak dit wat goed was deel van jou lewe en kultuur. En dit wat nie reg was nie of selfs sleg, maak klaar met dit en sorg dat dit nie deel is van wie jy word nie.

Oupa se wyse woorde was altyd "dink aan die rots waaruit jy gekap is" Met dit het hy nie bedoel hom nie.....Daar is 'n blueprint van die ware rots wat ons uit gekap is. Dink wat dit is wat moet deel wees van wie jy is en wat nie.

Dankie oupa vir die lesse van hoe om dit te doen soos jy het......En ok die lesse van goed wat jy verkeerd gedoen het wat ek nou geleentheid het om in my beurt reg te doen. Ek het nou geleentheid om my eie kultuur te skep in my huis.

Mis oupa!!

4.24.2012

Stop! Luister... roep!


Blou soos die hangmat wat hulle op le is die lug oor di Gamsberg sonder 'n wolkie in sig.
Wat is dit wat jou jaag?
Die boom se skadu ver oor die twee paar voete wat die horison met elke heen van die weer versteek.
Wat is dit wat jou jaag?
'n Swanger lyfie skuins na regs droom oor 'n naam vir die tweede een om te pas by die roeping.
Wat is dit wat jou jaag?
Die wind fluister 'n belofte, 'n naam 'n woord, 'n roeping en bevestig in die stem van 'n kind.
Wat is dit wat jou jaag?



Stop!!Luister!! Bly stil en luister!! Luister na die roeping, luister na die wind in die blare. Luister na die asem van jou kind. Luister na goeie raad en luister na jou hart!! Luister na die opdrag en luister na die stilte.

Want lewe en dood le in die mag van die tong. Roeping? Is dit 'n werkwoord? roep jy dan lewe tot stand? Wat is in 'n naam? Is daar iets van 'n belofte, roeping, 'n lewens misie in 'n naam? Is daar identiteit in 'n naam dieper as dit wat ek kan sien op hierdie aarde.

In die namiddag met die son nie meer so warm nie swaai die twee jarige van haar pappa se nek af om in 'n koel stroom water haar voetjies te druk. Dit is nou net die end van die reenseisoen en die veld is groen.

"Want soos die reen op die aarde val en nie terugkeer na MY sonder dat dit vrug gee aan die veld en die bome lewe gee nie. So sal MY woord nie leeg na MY terugkeer nie!"

Wat is jou naam? Raak stil....Nie net een keer nie. Raak rustig in jou wese en weet dat daar 'n roeping uit gegaan het oor jou lewe!!

Die boerseun droom!! Die boerseun raak stil en droom oor 'n naam vir die tweede een. Die boerseu se hart skree na die regte roeping oor haar lewe. Die boerseun roep 'n lewe oor hierdie kind!!As jy wat 'n aardse vader is dan weet hoe om goeie goed vir jou kinders te gee......